image_print

NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 27 Januarie 6 nm
Jy luister na …………… Dit is nou ………… Ek is ……………….. met die nuus
In die bulletin:
# Die skorsing van twee Gautengse DA-lede word opgehef
# ‘n Gautengse skool word voor stok gekry oor die dood van ‘n leerder
# En Engeland wen die vierde kriekettoets en die reeks teen Suid-Afrika

# Die Gautengse LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Lebogang Maile, het die skorsing van twee DA-raadslede in onderskeidelik Johannesburg en die Tshwane-metro teruggetrek. Hy sê hy het na ‘n regsmening besluit dat Johannesburg se Speaker, Vasco da Gama, en raadslid Katlego Mathebe van Pretoria onmiddellik mag terugkeer werk toe. Hulle is sonder salaris geskors omdat hulle na bewering hulle gedragskodes oortree het. Die DA se regspan het die optrede uitgedaag.

# Die Gautengse LUR vir Onderwys, Panyaza Lesufi, het beloof om kragdadig op te tree teen die Graceland-onderwyssentrum aan die Oosrand as hy nie antwoorde verstrek oor die dood van ‘n tiener nie. Die vyftienjarige Laticia Jansen is in Germiston verkrag en vermoor toe sy haar skoolvervoer verpas het. Lesufi het die gesin vandag besoek en gesê hy is teleurgesteld omdat die inrigting oënskynlik nie bekommerd was toe Laticia verdwyn het nie:

[KLANK] ENG LesufiOnSchool

# Die vise-voorsitter van Graan Suid-Afrika, Derek Mathews, en sy gesin het onder rowers deurgeloop op hulle plaas naby Deelpan in Noordwes. Vyf gewapende mans het hulle vasgebind, aangerand en beroof. In Ferndale, Johannesburg, is ‘n man en ‘n vrou in hulle sewentigs baie ernstig beseer toe ‘n man gewapen met ‘n mes hulle vanoggend in hulle huis oorval het.

# Die Portugese kuberkraker Rui Pinto beweer hy sit agter die sogenaamde Luanda-lekkasie. Sewe-honderd-duisend dokumente wat verlede week versprei is, betrek die Angolese miljardêr en gewese presidentsdogter Isabel dos Santos by korrupsie. Pinto word tans in die Portugese hoofstad, Lissabon, aangehou terwyl hy wag op sy verhoor vir afpersing en ander misdade. Angolese vervolgers het sedert die publikasie van die dokumente ook vir Dos Santos begin ondersoek.

# Krieket: Engeland het die vierde toets teen Suid-Afrika op die Wanderers in Johannesburg met 191 lopies gewen om die reeks met 3-1 in te palm. Die Proteas is vanmiddag in hulle tweede beurt vir 274 uitgeboul nadat Rassie van der Dussen 98 bygedra het, Quinton de Kock 39 en kaptein Faf du Plessis 35. Vernon Philander is toegejuig toe hy die veld die laaste keer verlaat het. Mark Wood het vier paaltjies geneem. Die eerste van drie eendagwedstryde tussen die twee lande word Dinsdag op Nuweland in Kaapstad gespeel.

# Rugby: Die fisioterapeut van die Sewes-Springbokke, Hugh Everson, sê daar word voorkeur gegee aan die spelers se fisiese herstel voor die naweek se Australiese toernooi in die wêreldreeks. Die Blitsbokke speel hulle groepswedstryde teen Argentinië, Samoa en Frankryk. Everson sê sommige van die spelers het ligte beserings na die teleurstellende vertoning in Nieu-Seeland:

[KLANK] ENG Everson OnPlayers

# En finansiële nuus: Die Rand verhandel teen 14 Rand-56 sent teen die dollar, 16 Rand-4 sent teen die euro en 19 Rand-3 sent teen die pond. Goud verkoop tans vir duisend-581 dollar-35 sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 58 dollar-54 sent per vat.

Dit is die einde van hierdie bulletin. Ons volgende nuusuitsending volg om…