image_print

NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 29 November 6 nm
Jy luister na …………… Dit is nou ………… Ek is ……………….. met die nuus
In die bulletin:
# Ford-eienaars word vergoed na hulle voertuie uitgebrand het
# Cell-C weier ‘n oorname-aanbod van Telkom
# En navorsers ondersoek ‘n moontlike verband tussen honde en wolwe

# Die Nasionale Verbruikerskommissie sê hy het 160 klagtes van Ford-eienaars ontvang oor hulle Kuga Ecoboost wat aan die brand geslaan het. Die kommissie het die Amerikaanse motormaatskappy beboet met 35 miljoen Rand en skikkingsfooie aan verbruikers. Waarnemende kommissaris Thezi Mbuza sê hoewel geen nalatigheid gevind is nie, het Ford verbode gedrag getoon deur voertuie met verdagte verkoelingstelsels te versprei:

Speel klankgreep: ENG MabuzaOnFordKuga

# Cell-C het ‘n oorname-aanbod van Telkom van die hand gewys. Die telekommunikasie-instelling hou vol dat die aanbod vir Suid-Afrika se derde grootste selfoon-operateur ‘n dwingende voorstel is. Volgens Business Day het Telkom sy eie intekenaar-basis die afgelope boekjaar met 85 persent tot 9,7 miljoen uitgebrei. Hy werk daaraan om sy sakebelange te hervorm weg van vastelyn-voorsiening na ‘n datadiens.

# AgriSuid-Afrika sê die bekendstelling van die nasionale meesterplan vir Water en Sanitasie voorsien ‘n raamwerk waarvolgens die toekoms van die land se water- en voedselsekerheid bepaal kan word. Dit sluit ‘n reeks dringende stappe in wat ingestel moet word om stelsel- en infrastruktuur-uitdagings die hoof te bied om voortgesette, ononderbroke toevoer vir gemeenskappe en sakegebruik te voorsien. Janse Rabie van AgriSA sê die landbouliggaam is daartoe verbind om met die regering saam te werk om water- en voedselsekerheid te verseker:

Speel klankgreep: AFR RabieOnWaterPlan

# Scotland Yard gaan nie sy ondersoek heropen na seksverhandeling-bewerings wat Virginia Roberts Giuffre teen prins Andrew gemaak het nie. Sy beweer dat die veroordeelde pedofiel Jeffrey Epstein haar in 2001 in ‘n woonstel in Londen gedwing het om seks te hê met Andrew toe sy net sewentien was. Die Britse polisie sê hy het die besluitnemingsproses hersien na Epstein se dood in ‘n Amerikaanse tronksel, maar gaan nie die besluit verander nie.

# Rugby: Die Bulls verwag dat die Springbok-stut Trevor Nyakane sal fiks wees vir die begin van volgende jaar se Superreeks. Die dertigjarige Nyakane het ‘n groot deel van die Wêreldbekertoernooi misgeloop weens ‘n geskeurde kuitspier. SuperSport berig dat die Bulls ‘n reuse-uittog van spelers ondervind, insluitend die Bokke Duane Vermeulen, Handré Pollard, Jesse Kriel, Lood de Jager, RG Snyman en Schalk Brits.

# Geldsake: Die Rand verhandel teen 14 Rand-69 sent teen die dollar, 16 Rand-12 sent teen die euro en 18 Rand-90 sent teen die pond. Goud verkoop tans vir duisend-455 dollar-65 sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 61 dollar-65 sent per vat.

# En navorsers probeer vasstel of ‘n jong diertjie wie se versteende karkas in Siberië gevind is, ‘n hond of ‘n wolf was. Die dier was twee maande oud toe hy sowat agtien duisend jaar gelede gevrek het, en het merkwaardig goed behoue gebly. DNS-ontleding kon egter nie sy spesie vasstel nie. Wetenskaplikes glo dit kan beteken dat die dier ‘n evolusionêre verband tussen wolwe en moderne honde verteenwoordig.

Dit is die einde van hierdie bulletin. Ons volgende nuusuitsending volg om…