image_print

NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 20 Augustus 3 nm
Jy luister na …………… Dit is nou ………… Ek is ……………….. met die nuus
In die bulletin:
# Ongerymde aanstellings by die SAUK kan hulle werk verloor
# ‘n Parlementêre komitee stel die bespreking van gewese NVG-advokate se afdanking uit
# En regter Edwin Cameron tree af by die Grondwethof

# Die SAUK sê sy werknemers wat op ongerymde manier aangestel is tydens die bewind van die vorige bestuur, is ingelig oor die uitsaaier se planne. Die korporasie het vanoggend ‘n aansoek by die Arbeidshof in Johannesburg ingedien om die aanstellings ongeldig te laat verklaar en ter syde te stel. Ag en twintig gevalle is tot dusver identifiseer. Die ondersoek gaaan voort en die SAUK sê nog ongerymde aanstellings kan onthul word.

# Die parlementêre komitee op Justisie het die oorweging van president Cyril Ramaphosa se besluit gestaak om die voormalige advokate van die Nasionale Vervolgingsgesag, Lawrence Mrwebi en Nomgcobo Jiba, af te dank. Dit volg nadat Jiba ‘n dringende hofaansoek ingedien het om die proses te verhoed hangend haar aansoek om ‘n regshersiening. Sy het die Hooggeregshof in Kaapstad gevra om die Mokgoro-kommissie se bevinding te verwerp dat sy en Mrwebi nie geskik is vir hulle poste nie. Die Parlement se regskenner, Siviwe Njikela, sê Jiba se aansoek sal nie teengestaan word nie:

Speel klankgreep: ENG NjikelaOnJibaAndMrwebi

# Die DA in Noordwes wil hê dat die Minister van Polisie, Bheki Cele, dringend moet ingryp om die toestand van die Ottoshoop-polisiestasie te verbeter. Die personeel kan weens ʼn tekort aan hulpbronne dikwels nie aandag skenk aan misdaadnoodgevalle nie. Joe McGluwa van die DA sê die bevolking van die dorp het die afgelope ruk aansienlik toegeneem, maar die stasie het nie tred gehou nie:

Speel klankgreep: AFR McGluwaOnPoliceStation

# Nuwe hofrekords toon dat die omstrede Amerikaanse finansier Jeffrey Epstein ‘n nuwe testament onderteken het net twee dae voor hy homself in sy sel opgehang het. Die hofdokumente wat verlede week ingedien is, gee nie besonderhede oor begunstigdes nie, maar raam die waarde van sy boedel op byna nege miljard Rand. Dit sluit meer as 860 miljoen Rand kontant in. Vervolgers gaan die aanklagte teen Epstein terugtrek na sy dood, maar oorweeg om ander mense aan te kla oor sy beweerde seksuele mishandeling van dosyne minderjarige meisies.

# Krieket: Engeland het sy span onveranderd gehou vir die derde toets om die As teen Australië wat oormôre op Headingley in Leeds begin. Snelbouler Jimmy Anderson is nog nie oorweeg na sy besering nie en gaan vir Lancashire speel om weer wedstrydfiks te word. Die Engelse en Walliese Krieketraad sê die 37-jarige Anderson sal ondersoek en oorweeg word vir die vierde toets wat op 4 September op Old Trafford in Manchester begin.

# Geldsake: Die Rand verhandel teen 15 Rand-38 sent teen die dollar, 17 Rand-4 sent teen die euro en 18 Rand-58 sent teen die pond. Goud verkoop tans vir duisend-506 dollar-39 sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 59 dollar-56 sent per vat.

# En hoofregter Mogoeng Mogoeng het regter Edwin Cameron as ʼn dapper en kragtige man beskryf toe die Grondwethof vanoggend van hom afskeid geneem het. Cameron het afgetree na ʼn dienstermyn van 25 jaar. Hy het in 1999 onthul dat hy MIV-positief is en geveg vir diegene wat die virus onder lede het en vir gay-regte. Mogoeng het tydens ʼn spesiale hofsitting gesê Cameron verdien verering op nasionale vlak:

Speel klankgreep: ENG MogoengOnCameron

Dit is die einde van hierdie bulletin. Ons volgende nuusuitsending volg om…