Print Print

Bulletin voorbeelde


NUUSFLITS-NUUSAGENTSKAP 16 Januarie 1 nm

Jy luister na ……… …….. Dit is nou ………….. Ek is …………….. met die nuus.

In hierdie bulletin:

# ‘n Johannesburgse matriekmeisie neem haar eie lewe

# Die Verenigde Nasies vra Nigerië om sy anti-gay-wet te hersien

# En krieketnuus

# ‘n Skoolmeisie van Johannesburg het volgens berigte haar eie lewe geneem na die eerste skooldag van die nuwe jaar. Sy was ‘n leerling van St Theresa in Rosebank. Die hoof, suster Barbara, sê die meisie se jonger suster is in dieselfde skool. Die tragedie het by die gesin se huis in Hurlingham gebeur. Die leerlinge kry berading.

# Privaat nooddienste waarsku dat pasiënte kan sterf as ambulanse deur Gauteng se elektroniese tolstelsel vertraag sou word. Die uitvoerende hoof van die vereniging vir operateurs van privaat ambulansdienste, Oliver Wright, het uitgevaar teen die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap se aandrang dat nieregerings-ambulansdienste e-skyfies op alle voertuie moet aanbring. Hy het aan TimesLive gesê die dienste kan nie alternatiewe roetes gebruik nie, want dit is baie besig en nie ontwerp vir voertuie wat teen ‘n hoë spoed op noodoproepe moet reageer nie.

# Een van die vier mense wat aangekeer is in verband met ‘n beweerde komplot om ondersoekers in die ontvoeringsaak teen Radovan Krejcir te vermoor, beweer dat ‘n senior polisie-offisier inligting aan gewillige kopers verkoop. Sibonisa Miya se regsverteenwoordiger sê die beweerde komplot is opgemaak om die geregsdienaar se rol in die saak te verbloem. Krejcir, ‘n Tsjeg wat uit sy land na Suid-Afrika gevlug het om aan die gereg te ontkom, staan saam met drie ander mense tereg vir die ontvoering van ‘n man in Gauteng verlede jaar.

# Die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, Ban Ki-moon, het Nigerië gevra om sy nuwe wet teen homoseksualiteit te hersien omdat hy vrees dit sal vooroordeel en geweld aanblaas. Die wet verbied selfdegeslag-verbintenisse en maak voorsiening vir tronkstraf van tot veertien jaar. Ban is ook bekommerd oor berigte dat die polisie vermeende gays in die noorde van die land in hegtenis geneem het. Patrick Godana van Suid-Afrika se Sonke-geslagsnetwerk beskryf die wet as ‘n terugslag vir demokrasie in Nigerië:

PMAFR-AntiGayLawUndemocratic

# Krieket: Die Ridders van die Vrystaat het die naweek ‘n opdraande stryd wanneer hulle twee plaaslike Twintig20-wedstryde speel. Hulle kom eers teen die Kaapse Kobras te staan, wat boaan die punteleer is, en dan teen die onvoorspelbare Titane. Die Ridders kon nog net een van hulle vier wedstryde wen en het ‘n oorwinning broodnodig. Afrigter Sarel Cilliers verwag dat sy manne hom nie sal teleurstel nie:

AMAFR KnightsMustWinWeekend

# Tennisnuus vanaf die Australiese Ope in Melbourne is dat die tiende gekeurde Caroline Wozniacki van Denemarke drie stelle nodig gehad het om die ongekeurde Amerikaner Christina McHale uit te skakel. Wozniacki het die tweederonde-kragmeting met 6-stroop, 1-6 en 6-2 gewen. Vroeër het die eerste gekeurde man, Rafael Nadal van Spanje, in die tweede ronde in skoon stelle afgereken met die jong Australiër Thanasi Kokkinakis. Die sesde gekeurde Roger Federer van Switserland het vir Blaz Kavcic van Slowenië ook in drie stelle kafgedraf.

# En geldsake: Die rand verhandel teen 10 rand-90 sent teen die dollar, 14 rand-84 sent teen die euro en 17 rand-78 sent teen die pond. Die goudprys staan op duisend-238 dollar-53 sent per fynons en die prys van Brent ruolie op 106 dollar-63 sent per vat.

Dit is die einde van die nuus, saamgestel deur NuusFlits Nuusagentskap. Ons volgende nuusbulletin is om ……….

 

NUUSFLITS-NUUSAGENTSKAP 16 Januarie 5 nm

Jy luister na ……… …….. Dit is nou ………….. Ek is …………….. met die nuus.

In hierdie bulletin:

# Vrygelate onderwyseres pleit vir haar man se vryheid

# Minister Mbalula vra Suid-Afrikaners om die Afrikabeker-sokkertoernooi te ondersteun

# En ouers sê hulle lewe ry meer wipplank as kinderloses s’n

# Die Bloemfonteinse onderwyseres wat verlede week in Jemen vrygelaat is, het gepleit vir die vrylating van haar man wat steeds aangehou word. Pierre en Yolande Korkie is in Mei verlede jaar ontvoer deur ‘n militantegroep met bande met Al Kaeda. Yolanda Korkie het vandag op ‘n nuuskonferensie in Johannesburg gesê haar man is ‘n nederige, saggeaarde mens en sy gesondheid gaan agteruit. Sy sê hulle twee tienerkinders sukkel om hulle pa se afwesigheid te verwerk. Die ontvoerders dreig om Pierre te vermoor as ‘n losprys van 30-miljoen rand nie teen môre betaal word nie.

# Die minister van Binnelandse Sake, Naledi Pandor, sê ouer mense moet verantwoordelikheid aanvaar om te verseker dat jongmense onderwys ernstig opneem. Sy het bejaardes vandag in Khayelitsha op die Kaapse Vlakte besoek. Pandor sê ouer mense besef hoe belangrik ‘n toekoms vir jongmense is en moet seker maak dat die jonges getrou studeer:

PMAFR-SeniorCitizensResponsibleYouthLearn

# Gehalte handels- en nywerheidseiendomme in Suid-Afrika sal in die korttermyn steeds opbrengste oplewer wat vergelykbaar is met ander beleggings, al bly die mark al vyf jaar lank tam. Dit is die mening van Gerrie van Biljon van Business Partners Beperk. Die maatskappy beheer ‘n eiendomsportefeulje van byna ‘n miljard rand. Van Biljon sê verskeie sleutelfaktore maak van Suid-Afrika ‘n stewige belegging:

PMAFR SAPropertyInvest2014

# Sokker: Die minister van Sport, Fikile Mbalula, het Suid-Afrikaners gevra om die Afrikabekertoernooi te ondersteun wat tans in die land plaasvind. Hy het in Johannesburg aan NuusFlits en ander joernaliste gesê die kaartjies se pryse is redelik. Mbalula het toeskouers ook gevra om stadions se reëls te gehoorsaam:

PMENG SupportFootballTournament

# Tennis: Andy Murray van Skotland het die Fransman Vincent Millot in skoon stelle verslaan in die tweede ronde van die Australiese Ope in Melbourne, waar die kwik vandag weer tot bo 40 grade celcius gestyg het. Die vierde gekeurde het met 6-2, 6-2 en 7-5 gewen in die laaste wedstryd van die dag op die Rod Laver-arena. Murray speel in die derde ronde teen die Spanjaard Feliciano Lopez, wat 26ste gekeur is.

# Geldsake: Die rand verhandel teen 10 rand-87 sent teen die dollar, 14 rand-82 sent teen die euro en 17 rand-75 sent teen die pond. Die goudprys staan op duisend-240 dollar-48 sent per fynons en die prys van Brent ruolie op 106 dollar-87 sent per vat.

# En ‘n opname het bevind dat Amerikaners met en sonder kinders hulle lewe min of meer as dieselfde beskou, terwyl kinders in die res van die wêreld neig om egpare se lewe ingewikkelder te maak. Die uitslag is afgelei van twee groot ondersoeke wat Gallup onder sowat drie miljoen mense gedoen het. Mense met kinders by die huis het hoër vlakke van emosionele reaksies aangedui, insluitend geluk en spanning, vreugde en woede.

Dit is die einde van die nuus, saamgestel deur NuusFlits Nuusagentskap. Ons volgende nuusbulletin is om ……….